Vrydag, 18 Januarie 2019
Anne-Marie Burger

Anne-Marie Burger

Ek is die gelukkigste mens wat ek ken.  Gebore in Groblersdal, groot geword in Pongola, koshuis-brak op Hoërskool in Vryheid. My nooiensvan is Mong - seker maar die rede waarom ek vroeg getroud is en toe later geskei is. Ek is getroud met Ben, my hart se punt. Ons het vyf kinders. Myne Elri(28), Jonelle(25), syne Monique(32), Riana(28) en Johan(26). Hulle is almal ons sin! Ons het die beste skoonseuns en skoondogter denkbaar! Waldo, Lourens, Bernard, Barend en Machele. Die kinders is oral. Gelukkig het ons van hulle hier by ons in Struisbaai. Die ander is in New Zealand, VSA en Pretoria. Ek was 'n PUK vir 'n rukkie, het 'n kleuterskool gehad. Het in die motorhandel beland waar ek 'n smous en verkoopsbestuurder was. Later vlootverkope by Nissan SA. Ek is "hoog" op die lewe. Vertikaal en bo-gronds nadat ek op 16 moes hoor ek het nie baie tyd oor nie. Vandag het ek 'n paar lang-naam siektes en is op baie sterk medikasie, ondanks die doodsvonnis is ek met Jesus se genade hier. Ek lees graag, my radio is altyd aan en ek probeer maar al wat "art" en "craft" is. Ek is 'n "cheer leader" vir huwelike, kinders, vroue, diere en gelukkig-wees. CFM het my lewe gered nadat ek medies ongeskik verklaar is om te werk.