Woensdag, 04 Desember 2024

Ons kalender is 'n GRATIS diens wat CFM aan die gemeenskap lewer. Laai gerus jou gebeurtenis hier om GRATIS blootstelling te kry.

NEEM KENNIS - HIERDIE IS NIE VIR BESIGHEIDS ADVERTENSIES NIE.

Alle plasing van gebeurtenisse is onderhewig aan goedkeuring van die administrateur en sal eers na goedkeuring op die bladsy vertoon.

 

HANDEL'S MESSIAH

Category
MUSIEK
Date
2024-11-30 00:00
Venue
NG KERK, HERMANUS
Telephone
082 940 4238
Email
Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

CAPE TOWN BAROQUE ORCHESTRA BIED NOG ‘N VERNUWENDE MESSIAH AAN

Nog ‘n unieke uitvoering van Handel se oratorium Messiah is in November in die Wes-Kaap te sien.

Op 28 en 30 November kan gehore in Kaapstad en Hermanus ‘n weergawe van Messiah ervaar wat hulle moontlik nog nie tevore gehoor het nie. Dit sal deur die Kaapstadse Barokorkes (CTBO) aangebied word, onder leiding van Erik Dippenaar vanaf die klavesimbel. CTBO sal verder die verhoog deel met die sangers van Lutesong Consort.

Ná die eerste uitvoerings van Messiah in Dublin in 1742, het Handel die oratorium verskeie kere tydens sy lewe weer uitgevoer. Vir elkeen van hierdie uitvoerings het hy die werk aangepas volgens die sangers en instrumentale musici tot sy beskikking – 'n algemene praktyk tydens die baroktydperk. Na aanleiding van die Kaapstadse Barokorkes se rekonstruksie van die eerste 1742 Dublin-uitvoering aan die einde van verlede jaar, sal CTBO die werk weer in November 2024 aanbied, hierdie keer met verskeie van die alternatiewe – en nie dikwels uitgevoerde – weergawes van arias en kore. Erik Dippenaar, CTBO se Artistieke Direkteur, het spesifiek weergawes van die arias en resitatiewe gekies wat die drie sopraansoliste as vertellers posisioneer, en dus die verhaallyn van die oratorium lei.

Volgens die CTBO se gebruiklike praktyk sal die orkes op barokinstrumente speel. Gehore kan uitsien na barok-strykinstrumente met dermsnare, ‘n kamerorrel, klavesimbel, teorbe, barokhobo, baroktrompet, en kalfsleer-baroktimpani, asook ‘n ensemble van twaalf professionele sangers wat die koordele sal sing, met die soliste wat ook deel van die vokale ensemble vorm. “Hierdie kleiner inkleding van instrumente en stemme gee aan die werk ‘n ligter, kamermusiekagtige gevoel, wat die ekspressiewe nuanses in die musiek en teks belig,” verduidelik Dippenaar.

Die Lutesong Consort sangers wat saam met CTBO die verhoog sal betree, is die soprane Lynelle Kenned (solis), Elsabé Richter (solis) en Louise Howlett (solis); alte Lente Louw (solis), Nick de Jager en Vasti Zeeman-Knoesen; tenore Sandile Mabaso (solis), Levi Alexander en Christiaan Bell; en basse Conroy Scott (solis), Keaton Manwaring en Luvo Rasmeni. Verder sal die Oostenrykse baroktrompetspeler Raphael Pouget en die Duitse barokhobospeler Ingo Müller ook by die gereelde CTBO-instrumentaliste aansluit. Pouget keer vir ‘n vierde samewerking met CTBO na Suid-Afrika terug, na optredes by die Kaapstad Barokfeeste in 2018 en 2019 en die 2023 Messiah-projek. Müller woon tans in Stellenbosch en was oor die afgelope jare ‘n gereelde CTBO-solis. Die uitvoering sal vanaf die klavesimbel deur Erik Dippenaar gelei word.

Benewens die twee uitvoerings sal ons vanjaar ook ‘n Messiah studiedag aanbied, met lesings oor die geskiedenis van Messias en die uitvoeringpraktyk van CTBO. Dit sal demonstrasies deur CTBO se barokinstrumentaliste en Lutesong-sangers insluit. Die datum vir hierdie studiedag sal binnekort bekendgemaak word, so hou ons sosiale media en webwerf dop.

Die Messiah uitvoerings van 2024, ondersteun deur die Mzansi Nasionale Filharmoniese Orkes, die Rupert Musiekstigting, en Overstand Kunste/Arts, sal op Donderdag, 28 November om 19:00 in Kaapstad (St. Andrew’s Presbiteriaanse Kerk, De Waterkant) en op Saterdag, 30 November om 15:30 in Hermanus (Nederduitse Gereformeerde Kerk) aangebied word. Kaartjies kos R220 en is aanlyn beskikbaar by Quicket of by René du Plooy by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees. of 082 940 4238.

 
 

All Dates

  • 2024-11-30 00:00

Powered by iCagenda